Die voetstoots klousule kom algemeen in koopkontrakte van vaste eiendom voor. Die aanspreeklikheid van die verkoper ten opsigte van verborge gebreke gee aanleiding tot interessante regsnavrae van verkoper, koper en eiendomsagente. Hierdie artikel dien as ‘n oorsig van die voetstoots klousule.
Bespreking
Die Suid-Afrikaanse gemenereg bepaal dat die verkoper nie aanspreeklik is vir gebreke van vaste eiendom wat met die blote oog sigbaar is nie. Daarenteen bepaal ons gemenereg dat die Verkoper aanspreeklik is vir verborge gebreke wat bestaan ten tye van die koopdatum, vir ‘n tydperk vir drie jaar daarna. Die voorgenoemde reël gee aanleiding tot die algemene gebruik van die voetstoots klousule in koopkontrakte van vaste eiendom. Die voetstoots klousule stel ten doel om die gemeenregtelike aanspreeklikheid van Verkopers te beperk.
In praktyk ontstaan die regsvraag of dit geoorloof is vir ‘n Verkoper (gegewe ‘n stel feite) om te skuil agter die vrywaring van ‘n voetstoots klousule, wat die aanspreeklikheid van geborge gebreke uitsluit.
Ons Howe het bevind dat ‘n Verkoper nie agter die vrywaring van ‘n voetstoots klousule mag skuil nie, as die Koper bewys, dat die Verkoper:
· Bewus was van die verborge gebrek ten tye van datum van kontrak sluiting;
· Die verborge gebrek op ‘n bedrieglike wyse verberg was.
Byvoorbeeld, ‘n huis beskik oor ‘n gebrekkige fondasie. Die Verkoper vul die krake in die mure op wat ontstaan het as gevolg van dit, en verkoop die huis aan ‘n onskuldige Koper. Die prognose is dat die huis kort voor lank nie meer bewoonbaar sal wees nie. Dit is veilig om te aanvaar dat ons Howe sal beslis dat die Verkoper opsetlik die verborge gebrek teenoor die Koper verberg het, en derhalwe nie agter die vrywaring van ‘n standaard voetstoots klousule kan skuil nie.
Slot
Die voetstoots klousule kom algemeen in koopkontrakte van vaste eiendom voor. ‘n Verkoper kan nie agter ‘n voetstoots klousule skuil, as ‘n Koper bewys dat die Verkoper bewus was van die verborge gebrek, en die verborge gebrek op ‘n bedrieglike wyse verberg het nie.