GEUE v VAN DER LITH (20 NOVEMBER 2003)
APPÈLHOF SAAK: 625/02
1. Die Appèlhof het op 20 November 2003 beslis dat die vereiste gestel in Art. 3(e)(i) van die Wet op die Onderverdeling van Landbougrond (Wet 70 van 1970), naamlik: dat geen deel van landbougrond sonder die Minister van Landbou se toestemming verkoop mag word nie, ʼn absolute vereiste daarstel. Dit beteken dat ʼn kontrak vir die verkoop van ʼn deel van landbougrond nietig is, al word dit opgeskort hangende die Minister se toestemming.
2. In casu het Van Der Lith ʼn deel van sy plaas Cantebury in Limpopo aan die egpaar Geue verkoop. Die kooptransaksie was onderworpe aan ʼn opskortende voorwaarde dat die Minister van Landbou moet toestem tot die beoogde onderverdeling alvorens die koop bindend is. Die Minister se toestemming is inderdaad later verkry toe die egpaar weens ongenoemde rede in die Hooggeregshof in Pretoria vir die nietig verklaring van die kontrak gevra het omdat dit nie aan die vereistes van Art. 3(e)(i) voldoen het nie. Die Hooggeregshof het bevind dat die kontrak nie nietig is nie. Die Appèlhof het beslis dat die kontrak wel nietig is, aangesien dit nie aan die vereistes van Art. 3(e)(i) voldoen het nie. Art 3(e)(i) is ʼn absolute vereiste.
3.1. Die beslissing bevestig dat ʼn kooptransaksie van ʼn deel van landbougrond nietig is, indien die Minister van Landbou se toestemming nie vooraf bekom is nie.
3.2. Die beslissing bevestig verder dat ʼn kontrak vir die verkoop van ʼn deel van landbougrond nietig is, al word dit opgeskort hangende die Minister se toestemming.
4. PRAKTYK NOTA
4.1. Dit is dus raadsaam om die nodige toestemming tot onderverdeling te bekom alvorens u ʼn kontak vir die koop van ʼn deel van landbougrond opstel. U kan professioneel aanspreeklik gehou word vir skade gelei deur die teenkant in ʼn geding indien die verkoper of die koper weens ongenoemde rede vir die nietig verklaring van die kontrak vra omdat dit nie aan die vereistes van Art. 3(e)(i) voldoen het nie.